wit sondag skoentjies

by Bernadette Madell

ôse Vader wat inni hemele is
kan my body nou geheilig wôd,
lat my virtue vi annes lat vi’stuk.
lattie justice system soes ’n western film,
geskiet soes in ôs reality.
Gie ôs allie regte
en vergiewe ôs-ôs emancipation
soes ôs oek ôs rapists vegiewe.
lei ôs nie in victim blaming nie,
maa velos ôs vannie nightmares en cat calls.
Wan aan wie behoot my koningkryk,
my heerlikheid,
my keuse
tot in ewigheit

Amen.