You are currently viewing Val deur Ryk Hattingh

Val deur Ryk Hattingh

Ná ‘n reeks teleurstellende voorvalle, ongelukke sou ‘n mens dit kan noem, was ek genoop om my lewe, in besonder my siening van myself, te herevalueer. My lewe lank was ek daarvan oortuig dat ek anders is as ander mense, dat ek spesiaal is, dat my insigte indringender is as die res van die mensdom s’n, dat ek briljant is, ‘n genie selfs, en dat ek sukses kan behaal, grootsheid selfs, in enigiets waarop ek myself toespits. Dis te verstane dat só ‘n seining nie tot gewildheid bydra nie, en ek het myself toenemend in my eie geselskap bevind. Deur die jare het ek gewoond geraak aan eensaamheid en ek het my uitsonderlike situasie aan myself verduidelik deur myself aan te spreek en te sê dat dié toedrag van sake iemand soos ek eintlik goed pas, ek hoef nie intelligente geselskap op te soek nie want ek bevind myself in die teenwoordigheid van die intelligentste geselskap moontlik. Nou moet ek beken dat ek destyds, toe ek nog diébeeld van myself gekoester het, dit werklik geglo het. Ek was ernstig, eerlik, doelgerig. En soos alle briljante mense het ek myself daarvan oortuig dat ek ‘n skrywer is, dat ek boeke gaan skryf wat die mensdom eenvoudig gaan verstom. Dié besluit het my opgewonde gemaak en in ‘n sekere mate bevry van my ander ambisies, buitensporige ambisies, besef ek nou. Ek het my meesterlike, albeit onvoltooide, skilderye weggepak, ewe onvoltooide musiekkomposisies in laaie gedruk, selfs my skaakstel, ondanks die feit dat ek destyds geglo het ek goed op pad is om ‘n meester te word, is weggebêre. Ek het ‘n toegewyde skrywer geword.

 

Dié besluit, twintig, dertig jaar gelede, was die eerste fout wat ek gemaak het. Miskien nie die heel eerste fout nie, maar wel dié een wat my selfbeeld toenemend ondergrawe het. Dag vir dag oor die jare, mislukking op mislukking, teleurstelling op teleurstelling, verwerping… Ek het wel ‘n handjievol boeke gepubliseer, af en toe ‘n artikel of ‘n opstel vir ‘n koerant of tydskrif geskryf, maar enige vorm van sukses het my ontwyk. My toneelstukke is nooit opgevoer nie, draaiboeke nooit verfilm nie. Daar is allerhande snedige dinge oor my gepubliseerde werk gesê. Dinge wat ek nie graag wil herhaal nie. Verlede jaar het ek nogmaals ‘n boek aan ‘n gevestigde uitgewer voorgelê en dit is afgewys met die woorde: die idee is goed, maar die somme werk nie. Dit was die laaste strooi. Ek het besef ek is in die moeilikheid, was van die begin af in die moeilikheid, en dat ‘n mens veral in die moeilikheid is as jy onder die indruk verkeer dat jy nié is nie. Jy kan opstaan in die oggend, die gordyne ooptrek en jou oë die pragtige land- of seeskap laat indrink, jy kan dink: Wat ‘n wonderlike dag! ‘n Nuwe dag, en jy is vol self vertroue, en jy is ingenome met jouself, sekuur in jou vel.

 

Aan moontlikhede skiet dit nie te kort nie. Jy kan jou hardloopskoene aantrek en deur die strate en openbare ruimtes draf, die halfskoon lug inadem, jy kan sweet en die effense bries teen jou huid voel. Maar wat jy nie besef nie, is dat jy in die moeilikheid is. Jou dae is getel. Jy nader die rand van ‘n afgrond. Omdraai is nie moontlik nie, stilstaan buite die kwessie. Dis net vorentoe. Draf of spring, jy kan jou eie modus van ondergang kies, maar ondanks jou vrye keuse en al is jy in die pekel, my maat. Dis net af, af, af. Jou Nike-skoene, jou Just do it-frokkie, jou elektroniese fiksheidsmonitor aan jou linkerpols, gaan saam met jou neerplof. Op die klippe, die beton- of teerblad. Ons is almal in dieselfde penarie. Of jy so dink of nie. Identiteitskrisis is dalk ‘n goeie woord om hier in te span. Bestaanskrisis selfs. Die val was volledig. Van selfingenome individu, ék nou, destyds, tot in dié ellendige doodloopstraat. Binne ‘n kwessie van tien of twintig jaar. Van iets tot niks. Maar ek het dit eers omtrent gister besef. Dit was ‘n Sondag. Dat ek jare gemors het. Dekades selfs. ‘n Gemorste sekonde is ‘n helse sonde. Ek het ‘n groot sonde gepleeg. ‘n Hele lewe gemors. Dat ek, kom ons sê dit, my lewe, daaraan gewy het om mislukking te vervolmaak. Ek is kak. Ek is ‘n drol. Ek vul Augias se stal tot teen die dak. Sondagoggend. Dis min of meer op hierdie perron waar ‘n alkoholis by die AA se deur gaan aanklop. Ineens kom ek tot ander insigte. Ek neem ‘n besluit. Ek gaan die waarheid my eie maak en myself uit hierdie haglike situasie skryf. Ek gaan nader aan die mensdom beweeg. Nou dat ek besef het ek is een van hulle, gaan ek mense se geselskap opsoek. Ek gaan eerlik wees, die leuen is verby. Woord vir woord, besluit ek. Drie honderd per dag. Elke dag. Van vandagaf. ‘n Sondag. Doen die somme. Na tien dae het jy drie duisend woorde, na ‘n honderd dae dertig duisend, na ‘n jaar ‘n honderd en nege duisend vyf honderd woorde. Nog driehonderd meer as dit ‘n skrikkeljaar is. Soos dit juis dié jaar is. Op dié manier gaar ek materiaal op waaruit ek later kan kies en keur en daaraan redigeer totdat ek uiteindelik genoeg stof het om ‘n nuwe boek aan die wêreld voor te lê. ‘n Eerlike boek waarin ek my nuutgevonde waarheid kan inspan om my mislike lewe oop te vlek. Almal wil ‘n boek hê, dink ek. Verkieslik ‘n nuwe boek. Niemand het nog naastenby al die ou boeke gelees nie, dog steeds wil hulle ‘n nuwe boek hê. Dis wat ek dink.

 

Dié betrokke dag, dit was ‘n Sondag in Januarie, sit ek af boekwinkel toe en skaf ‘n Moleskin-skrif en ‘n Staedtler- potlood aan. Die korrekte gereedskap vir ‘n skrywer, want dis belangrik, dink ek. O ja, en ‘n uitveër ook. Die gepaste gereedskap vir die taak voor hande. ‘n Nuwe geesdrif het my beetgepak. Dis toe dat ek John Speck ontmoet. ‘n Rietskraal bebaarde grysaard met die potblouste oë onder die son. Ek het in hom vasgeloop. Ons het in dieselfde rigting gestap, hy so ‘n ent voor my op sy roomysstokkiebene, en ek wou hom verbysteek, toe hy skielik tot stilstand kom en sy been soos ‘n reier oplig om ‘n klippie of iets uit sy sandaal te haal. Ek was seker ingedagte en loop in hom vas, stamp hom om, en hy kom met ‘n slag op die sypaadjie te lande. Doef! Klap sy kop teen die keistene. Ek het afgebuk en die ou man opgehelp. Stadig, want hy was iet wat in ‘n waas en sy linkeroor het gebloei en sy kneukels aan sy linkerhand was nerfaf. Ek het om verskoning gevra en my sakdoek aangebied om teen sy oor te hou. Ek kon sien hy was nie lekker nie. Om te val, selfs al is dit nie deur jou eie toedoen nie, ondergrawe ‘n mens se self vertroue. Hy was net oppad huis toe, sê hy, maar miskien moet hy net eers ‘n bietjie sit en dan sal hy verder stap. Nee, sê ek, miskien moet hy eers dokter toe om sy oor en kneukels te behandel. Of dalk kan ek hom huis toe neem. Hy stem in dat ek hom huis toe neem, maar vir die dokter sien hy nie kans nie. Later vertel hy dat hy op ‘n keer toe hy in Kanada op toer was, dokter toe moes gaan met ‘n chroniese maagaandoening en dat daar teen die muur in die spreekkamer geraamde foto’s gehang het, foto’s van die dokter en al die diere wat hy in Afrika geskiet het: foto’s van die dokter en ‘n dooie leeu, die dokter en ‘n dooie olifant, buffel, en nog ander diere ook. Hy sê die foto’s het hom só ontstel dat hy besluit het om liewer nie die dokter se dienste te gebruik nie.

 

Hy is terug hotel toe. Dit was dalk nie die regte besluit nie, want ‘n paar dae later het hy in die voorportaal van die hotel omgekap en is hy inderhaas in ‘n hospitaal opgeneem, waar dit natuurlik krioel van die dokters. Op dié manier beland ek aan huis van John Speck. Nou moet ek sê, ‘n mens kan dink jy is voorbereid op die lewe, dat jy in die amper sestig dekades op dié planeet, alles gesien het. Dat jy nie meer geskok of verras kan word nie. Dat die mens in al sy skakerings en fasette aan jou bekend is. Elke perversie… Toe John Speck sy voordeur oopmaak en my binnenooi met ‘n half binnensmondse apologie dat die plek ‘n bietjie deurmekaar is, en dat hy nooit ‘n vrou in sy huis sal toelaat nie want vrouens verstaan nie, het ek ineens besef dat ek nog nie alles ervaar het nie. Van hoek tot kant, van vloer tot plafon, was goed, dinge, artikels, ware. My oë was nog nie gewoond aan die donker nie, want selfs die vensters was toegepak. Volg my, sê hy, en ons loop in ‘n drukgang van omtrent dertig sentimeter wyd met kartondose aan elke kan teen die trappe op na die boonste verdieping. Omring deur dinge. ‘n Chaotiese emporium. Toe begin my oë aanpas by die skemerte. Daar is twee stoele, en ons klouter oor stapels tydskrifte en boeke en plastiekemmers wat onder lekke in die dak geplaas is. Hy skakel ‘n lig aan en wys na ‘n ou verflenterde stoel. Sit daar, ek wil net gou iets gaan haal. John Speck is weer af met trappe. Ek hoor hom iewers onder werskaf. Ek verkyk my aan die inhoud van die vertrek. ‘n Mens sien dikwels televisieprogramme van mense wat aan ‘n opgaarsindroom ly, mense wat só obsessief materiële dinge vergader dat hulle selfs nie van hulle eie ekskresie ontslae kan raak nie. In John se geval, of só lyk dit vir my met die eerste oogopslag, was daar ‘n sekere orde te midde van die chaos. Dit was nie vuil nie, nêrens was plastiekbottels vol twyfelagtige vloeistowwe sigbaar nie. Tuingereedskap was gewis een van sy groot voorliefdes. Die een hoek van die vertrek behoort aan grawe. Honderd, twee honderd dalk, ek raai nou; dan byle, klein en groot, by die honderde; sae, van klein figuursagies tot reusagtige tweemantreksae… En boeke en tydskrifte in stapels tot teen die plafon. Broodroosters en gasbranders en voedselprosesseerders. Mikrogolfoonde, ketels. En vreemd genoeg, al die artikels was nuut, ongebruik, die meeste van die kombuistoebehore nie eens uit hul verpakkings gehaal nie.

 

 John Speck keer terug en kom sit op die stoel langs my. In sy hand het hy ‘n potjie salf. Ek maak dit self, sê hy. Paraffien en smeerwortel en heuning. Wonderlike geneesmiddel vir enige wond of skraap. Met sy regterwysvinger smeer hy die salf aan sy oor en aan sy kneukels, plaas die dekseltjie terug en sit die potjie langs hom op ‘n tafeltjie neer. Ja, sê hy, dankie dat jy my huis toe gebring het. Jy is die eerste besoeker in jare. My suster was so twintig jaar gelede hier. Vir Kersfees. Sy was só onthuts oor al die goed in my huis, gemors het sy dit genoem, dat sy gesê het sy sal my nooit weer besoek as ek nie die plek skoonmaak nie. Gemors! Hier het ek die gereedskap om enige taak te verrig. En jy moet weet, dit het my jare gevat, ek is nou een en tagtig, en ek woon reeds oor die veertig jaar in dié huis, jare om alles bymekaar te maak. Dis soos die Chinese sê: die opeenstapeling van klein dingetjies is die sleutel tot sukses. Jy hou vol daarmee, en eendag, op ‘n dag, kyk jy om jou en jy besef, dit is volbring. Jou versameling werktuie en lewensmiddele is volledig. En ek weet waar alles is, waar elke artikel vandaan kom. Ek het kwitansies vir alles. En sy noem dit gemors. Die regte gereedskap vir die regte taak. Dis belangrik. Jy kan nie ‘n hamer gebruik as jy ‘n plank wil saag nie. Probeer ‘n gat met ‘n byl grawe? Miskien wel, maar jy gaan die meeste van die tyd rondkruip om die los grond met jou hande uit te haal. Nee, jy gebruik ‘n behoorlike graaf. Dis hoekom jy die regte graaf moet besit, of minstens weet waar om een in die hande te kry. Dis hoe ek dit gedoen het. Elke week ‘n nuwe stuk gereedskap, die regte stuk gereedskap, vir die taak. Dis my filosofie. Dié toevallige ontmoeting met John Speck het my verwar. Op pad uit, teen die trappe af en met my oë nou goed gewoond aan die halfdonker, sien ek agt lere teen die muur hang. Die volgende dag, dit was ‘n Maandagdink ek, het ek opgestaan met ‘n tintelende brein. Drie honderd woorde. Soos reeds genoem, het ek ‘n skrif en ‘n potlood aangeskaf.

 

My eerste sin in my nuwe Moleskin-skrif: “Om te skryf is tog om sin te probeer maak van die wêreld.” Dadelik is ek nie gelukkig met dié sin nie. Veral nie as ‘n eerste sin nie, want nou lyk dit of ek myself in ‘n wêreld bevind wat nie sin maak nie. En dis nie die waarheid nie. Natuurlik maak die wêreld sin, dink ek. Nie altyd nie, maar soms. Ek besluit om my eerste sin te redigeer. Te stroop, soos hulle sê. Ek vee my eerste sin uit en skryf: “Om te skryf is om sin te maak van die wêreld.” ‘n Mens wil nie die woord “probeer” in jou eerste sin hê nie, want dan lyk dit asof jy nie weet wat jy doen nie, asof jy poog om die onmoontlike uit te rig. Dis tog simpel. Kill your darlings, het iemand op ‘n keer gesê. Ek volg dié advies.

 

Die woord “sin” is reeds vervat in “sinneloos”. Ek vee dié sin ook uit. Ek skryf: “Om te skryf is om sin te maak.” Ek is steeds nie tevrede met dié sin nie, maar ek sal later verder daaraan skaaf. Na my eerste agt woorde maak ek koffie en skakel die TV aan. Oorlewing in Alaska. Miskien sal ek later gaan visvang, dink ek. Ek drink my koffie, skakel die TV af en gaan sit weer by my lessenaar. Ek besluit om my nie langer aan die eerste sin te steur nie, maar om eerder aan ander materiaal te werk. Nie sin te probeer maak nie, net bloot te skryf oor onderwerpe en dinge wat waar is, wetenskaplike dinge, dinge waarin ek belangstel. In die dae wat volg, skryf ek ondermeer ‘n klein opstelletjie oor die Amerikaanse trekduif (Ectopistes migratorius), ‘n eeu en ‘n half gelede een van die volopste voëls in die wêreld, wat deur jagters uitgewis is. Die titel van dié opstelletjie is Martha, want dit was die naam van die laaste oorlewende trekduif wat in September 1914 in die Cincinnati-dieretuin dood is. Ek moet egter beken dat daar sinne in daardie opstel is wat ek net so van Wikipedia afgelaai het. Dinsdag waag ek selfs my hand aan ‘n verhoogstuk. Miskien nie ‘n verhoogstuk nie, eerder die idee vir een. Die plot, soos hulle sê. Maar dis ook nie korrek nie. ‘n Oorsig dalk. Ek skryf: Omvangryke rolverdeling met wyd uiteenlopende karakters wat mekaar op die snykant van die postkapitalistiese staat ontmoet. Fantastiese verhale van mislukte revolusionêre, skatryk kommuniste, ontgogelde rassiste, grensvegters en oorlogsveterane. Uitskot van die revolusie wat deur die bankiers en grondbesitters van hul ideale beroof is. Bitter mense wat op ‘n manier ‘n lewe probeer uitkerf deur te steel en te smokkel en dit selfs waag om ‘n paar plante te groei. ‘n Informele gehug tussen die mynhope waar ras en klas en agtergrond lankal nie meer saakmaak nie. Brecht in Brakpan. Met karakters soos Vetkat wat sy eie mense uitverkoop en buffels vir miljoene der miljoene aankoop en van plan is om die reeds ontheemdes verder in hulle kanon in te stuur deur hulle nedersetting uit te wis en ‘n casino daar te bou.

 

En dan is daar Mooinooi en Meester (hy ken byvoorbeeld ‘n hele klomp boeke uit sy kop uit). Butch, die bosbefokte oud-grensvegter wat woedend op en neer met krukke loop (sy voet is afgesit nadat hy gangreen op die grens gekry het) en die ou bedeling vir hul wreedheid en gierigheid tot in die sewende laag van die hel vervloek. In een stadium sing Mooinooi ‘n koslied: As jy wakker word in die oggend en die gordyne ooptrek en die son skyn op jou gesig, weet jy daar is moontlikhede. Die kombuiskas is vol kos. Graanpoffertjies en geblikte kerrievis en rys en pasta. ‘n Yskas vol kos. Kaas! Daar was kaas! O daar was kos en kaas. Fok, lus ek nou vir kaas. En crackers. Dips. Wat ek nie sal gee vir ‘n stukkie kaas nie. Bloukaas. Gorgonzola. En room. Al die disse, want almal het mos gekook in daardie dae. Almal het gesmul in daardie dae. Hoe het ons nie in daardie dae geëet nie! Vleis, regte vleis, bees en skaap en vark en hoender. Hoe het ons nie geëet nie. Fok, lus ek nou vir vleis. Tjops en schnitzel, kassler en spek. Fok hoe lus ek nou‘n stukkie vleis. Dis meer as drie honderd woorde lank, ek weet, maar ek het besluit om nie te rigied te wees nie. Elke dag ‘n nuwe stukkie. Op Woensdag skryf ek oor die lewenssiklus van die sonbesie; Donderdag oor die merkwaardige verhouding tussen die Engelse blouvlinder (Phengaris arion) en twee mierspesies (Myrmica sabuleti en M. scrabrinodes).

 

Hier is ‘n uittreksel: Die vlinder lê haar eiers op die blomknoppe van ‘n wilde tiemie plant. Die ruspes boor in die blomknop in en vreet die ontwikkelende saadjies, en na omtrent ‘n week se verblyf kruip die ruspe uit en val op die grond. Die ruspe skei ‘n stof af wat nie bloot die miere voed nie, maar hul gedrag verander. Die mier gaan haal ‘n paar van sy mater en hul dra die ruspe in hul ondergrondse nes in. En dan, as die ruspe in die miernes is, begin dit die miere se larwes verorber todat dit later in ‘n papie verander. Dan, as die papie gereed is om in ‘n splinternuwe blouvlinder te transformeer, bring sy ‘n klankie voort wat die miere kalmeer, en met die rustige miere wat ‘n erewag vorm, klim die brose vlinder uit die miernes en alles begin van voor af. Vrydag besoek ek John Speck. Dié keer met ‘n tupperwarebakkie vol koue kalkoen en aartappels. ‘n Mens wil nie met leë hande anderkant aankom nie. En miskien, as ek eerlik moet wees, was dit dalk ‘n voorwendsel om hopelik insae in van die ander vertrekke te kry. Dié voorstedelike askeet het my verbeelding geprikkel. Ek klop aan die voordeur, maar daar is geen reaksie nie. Ek loop om die huis en sien die half oop agterdeur. Ek klop en wag. Later roep ek in die huis in, John! John! maar steeds niks nie. Ek stoot die deur oop en stap huiwerig binne. Toe gaan ‘n alarm af. Boeglam geskrik, retireer ek en besluit om so vinnig as moontlik weg te kom, want nou-nou is die polisie hier en dis nie die soort aandag wat ek wil hê nie. Toe, met ‘n kleurryke gebreide mus op sy kop, daag John Speck op.

 

O, dis jy, sê hy. Ek was onder in die tuin. Ek wil perskes pluk. Hy stap die huis binne en skakel die alarm af. Verligting, want alarms en ek is nie vriende nie. John Speck nooi my nie in nie. Ek staan op die drumpel. Hier is ‘n bietjie kalkoen en aartappels vir jou, sê ek. Sit dit vir ‘n minuut of twee in een van jou mikrogolwe voordat jy dit eet. Ja, sê John Speck, en met die bakkie vol kos in sy hande sê hy: die alarm is my enigste verweer teen die mense wat my wil besteel. In 1986 het iemand oor die heining gespring, helder oordag, en deur daardie venster geklim, en ‘n sloop vol radio’s en kassetspelers gesteel. Dis tóé dat ek die alarm laat installeer het. Dankie vir die kos. Ek het lanklaas vleis geëet. Dis maar meestal vrugte. Ek sou jou ingenooi het, maar die plek is ‘n bietjie deurmekaar vandag. Reg so, John, sê ek. Ek het nie kom kuier nie. Ek wou net vir jou ‘n bietjie kos bring en hoor of jou oor beter is. Hy haal sy mus af, wys my die vuil strook hegpleister op sy oor. Ja, amper gesond, sê hy. Maar ek sien die swelling en die etter wat deur die pleister gesypel en aan die buitekant gekoek het. John, sê ek, jy moet by ‘n dokter uitkom met daai oor van jou. Dis ontsteek. Jy moet antibiotika in jou lyf kry. Ek kan jou na my dokter toe vat. Hy is regtig baie sorgsaam. ‘n Sensitiewe man, ‘n vegetariër. Maar ek sien die tenger man is nie te vinde vir my voorstel nie. Het jy ‘n pen en ‘n stukkie papier, vra ek. Ek wil my telefoonnommer vir jou gee sodat jy my kan bel as jy besluit om dokter toe te gaan. Ek sal jou kom oplaai. Of sommer net as jy iets nodig het. Hy verdwyn in die skemerte van sy huis en kom tevoorskyn met ‘n pen en papier. Ek skryf my naam en selfoonnommer neer en oorhandig dit aan hom. Moenie huiwer om te bel nie, sê ek.

 

‘n Paar dae later, en met meer as drie duisend woorde in potlood in my Moleskin-skrif, keer ek terug na die eerste sin op bladsy een. “Om te skryf is om sin te maak.” Ek probeer allerhande permutasies van dié agt woorde, maar dit behaag my nie. In een stadium skryf ek selfs: “Om te skryf is sinneloos.” Dit is ook nie waar nie, want die hele aard van skryf is om woorde in sinne saam te snoer, om sinne te maak. “Om te skryf is om sinne te maak.” Ja, dink ek, kom ons los dit so, want “sin” is vervat in “sinne”. Ek het my eie, persoonlike motto gevind, dink ek. Om te skryf is om sinne te maak. Nie ideaal nie, ek weet, maar naby genoeg aan wat ek eintlik wil sê. Ek slaan my boekie toe, haal bevrore sardyne uit die vrieskas, pak my lang seestok en visgerei in die kar en sit af see toe. Miskien vibreer my nuwe, halfgebakte motto om en deur die aarde en bring geluk vir my in die vorm van ‘n lekker groot vis. Op pad see toe lui my selfoon. Ek trek af. ‘n Vrou. Jy ken my nie, sê sy. My naam is Getrude Morris. Ek is John Speck se suster… Hy is Maandag oorlede. In die hospitaal. Ek is nou hier by sy huis. Ek het hom gesien voor sy dood. Hy’t jou nommer aan my gegee, gesê ek moet jou bel. Kan jy asseblief  hierheen  kom.  Ja, sekerlik, ek is op pad, sê ek en skakel  my foon  af. Een oomblik gelede was ek opgewonde oor die moontlikheid van ‘n vis, en nou, so voel dit vir my, is ek dalk aandadig aan die dood van ‘n man. In die straat voor John Speck se huis is drie reusetrokke. Mense in oranje oorpakke is besig om die inhoud van sy huis in die bakke van die trokke te gooi. Soos miere. Ek parkeer verder in die pad af. Stap verby die trokke en maak nie oogkontak met die rits mense wat met hande vol verbruikersartikels uit die huis stroom nie. Getrude Morris staan in die oorgroeide voortuin. ‘n Vroulike weergawe van John Speck. Net netjieser, nie so uitgemergel nie, met dieselfde blou oë as haar oorlede broer s’n. Ek stel myself voor, oorgehaal om myself te verdedig indien sy my van iets beskuldig.

 

Het jy hom goed geken? Vra sy. Ek vertel haar dat ons toevallig op die dorp ontmoet het. Hy het gestruikel en geval, reg voor my, en ek het hom opgehelp en hierheen gebring. Ek vertel haar dat hy geweier het om dokter toe te gaan, en dat daar nie juis iets was wat ek daaraan kon doen. ‘n Mens moet tog ander mense se wense respekteer, sê ek. Ja, sê sy, hy was van die begin af baie hardkoppig. Kyk net na die gemors wat hy oor die jare opgegaar het. Nou sê jy hy het vroeër ook geval, hy het my niks daarvan vertel nie. Dis hoe hy dood is. Hy het geval. Hy het op ‘n ou tafeltjie geklim om by die perskes uit te kom. Toe verloor hy sy balans. Hoekom hy nie ‘n leer gebruik het nie, sal ek nooit weet nie. Nie eens hoog nie. Net oor ‘n meter sy val. Hy kon nie opstaan nie. Te swak. En hy het nooit ‘n telefoon gehad nie. In dié tye. Inwendige bloeding. Hy het om hulp geroep en ek het die ambulans ontbied. Ons woon langs mekaar, jare reeds, van die begin af, maar ons het mekaar lanklaas besoek. Ek was in die kombuis besig om tee te maak, toe hoor ek hom roep. Ek het hom darem te sien kon kry voor sy dood. Die dokter sê hy weet nie hoe John regop kon staan nie, wat nog te sê afstap tuin toe met die tafeltjie, want sy linkeroor was erg ontsteek. Septo iets. Bloedvergiftiging. En ‘n mens se ore bepaal jou balans. Sê die dokter. Arme John, hy was ‘n vreemde mens. Dankie dat jy hom huis toe gebring het. Ná die val, bedoel ek. Dit was gaaf van jou. Goeie dade is skaars deesdae. Hy het gesê jy het vir hom kos gebring. Stap saam met my. Net voor hy weg is, wanneer was dit, het hy gesê ek moet jou tupperware terug besorg aan jou. Dis in die kombuis.

 

Published in New Contrast issue 173 

Artwork by Georgina Gratrix in New Contrast 176