You are currently viewing Lauttasaari Akker M1 Espoo-Helsinki, 2021 deur Charike Swanepoel

Lauttasaari Akker M1 Espoo-Helsinki, 2021 deur Charike Swanepoel

I. Matinkylä
In die begin was die appel ʼn aanbod.
Die Mattby metro is in ʼn mall,
Iso Omena, i.e. The Big Apple.
By Mattby trek die M1-metrokar weg
en ek voel vir my selfoon om te kyk hoe ver
hierdie masjien nog ondergrond moet seil.
Ek moet gaan Kumbaya sing vir twintig euro
in Lauttasaari, want ʼn buitelander bly ʼn buitelander
en hierdie buitelander het baie skuld gemaak om hier te kom.
So is dit dan. In die begin was die appel ʼn aanbod, ʼn amper-belofte.

II. Niitykumpu
In die agtergrond en oor Skype,
het ek vir ʼn jaar na die pastel groen en geel kubusse
teen die Niitykumpu stasiemure gekyk as jy huistoe bel.
Ek het ingeloer uit ʼn ander wêreld. En geluister. Noudat
ek hier is, lief, nou kyk niemand terug uit daardie wêreld nie,
niemand luister in nie. Waar is ons met Afrika heen?
Omdat ek so aandagtig geluister het en geleef het oor die lyn,
is daar dalk ʼn bietjie van my vorige self in die stilte tussenin?
Kan ek en sy saam sit en sin maak uit die verdwaalde swanesuis
wat weergalm en golf op golf uitspoel tussen-in toe en nou?

III. Urheilupuisto
“Urheilu” is sport en “puisto” is park. Daar is parke hier vir alles,
parke net vir sport, parke net vir honde, parke net vir sommer.
By die sportspark drafstap meisies my ouderdom met ski-pants
en kleintjies in prams verby, meisies in pienk hempde met simpel
niksseggende frases op soos “peak performance” swaai hul foutlose
poniesterte teen die verbeelde ritme wat bons in die geestesoog.
Ons stel familiebou uit, ek en jy. Buitelanders bly buitelanders,
al gaan ons huistoe. So is dit dan dat die slang onverrigtersake
met slymskibbe en appel terugseil om die groot boom te omlyf.

IV. Tapiola
Die onderdonker rit word beknop by Tapiola
en niemand wil sit waar ʼn gevrieste modderkoek
op die sitplek agtergelaat is nie. Almal kyk vir mekaar
maar net vlugtig en eers later weer in weerkaatsings
teen die glas, want die sosiale kontrak vereis dit:
kyk—maar moenie vat nie, nie gryp aan die gees
of die alleenwese daarbinne nie. Nee, net vlugtig,
saam die meganiese metrobrul, ontmoet elke stel
oë mekaar en staar daarna vir die naaste blindekol.
Hoera!

V. Aalto-yliopisto
By die Aalto stop klim blaartrappers op
en pluk-pluk aan hul stewels tot by Keilaniemi,
die korporatiewe kern van die dorp waar alles wat
goed en mooi is vir die regte prys te koop is.
Die wêreld is reg rondom en oral dieselfde, die Eenwêreld
verdeel sy donker laagsgewys en in skadus tussen alle tale.
Onkundig, as kind, was alles altyd Afrika en Afrika onbekend
maar deesdae wonder ek oor die saligheid in droewigheid wanneer
my filosofiedosent homself beskryf as ‘cosmopolitan’, so asof
ʼn tipe wêreldburgerskap jou vrystel van die sorge van die grond.

VI. Keilaniemi
Keilaniemi is halfpad tot by Helsinki.
Hier verander die sones van B na A saam
met die prys van jou kaartjie en die tipe passasier.
Hoe nader aan die hoofstad van die land, hoe nader
aan die groot hart wat ons almal hoor drom, hoe nader
die samesnoer van die onbekendes, almal wat vreemd is.
Internasionale waters? No man’s land of allemansland?
Nader, steeds nader.

VII. Koivusaari
Die Koivusaaristasie is heeltemal onder die see.
Koos du Plessis het gedink dit is onbegonne
om te vlug en tog, een, twee;
iewers bo die Baltiese kus.

VIII. Lauttasaari
Soos ons, is Lauttasaari ʼn eiland.
Ek klim haastig af op soek na die naaste roltrap.
Ek is altyd bang iets breek daarbinne af en sny my
en elke lyf op hierdie roller coaster trapper in skywe.
Herinner tog my pa aan daardie begrafnispolis vir die
Vrygebore-1994-babas wanneer ek vergaan het:
Being born free(d) was
to start at the (b)end but to
st(r)ay along the way.
Maar eers wanneer ek vergaan het.
Laat my vir nou die rye Lauttasaari akkerbome wardeer
terwyl dit netsowel Potchefstroom se Akkerlaan kon wees.
Laat my vir nou verdwaal terwyl ek besluit of ek daardie winde
wat die wêreld skoon waai werklik hoor en of ek dit net onthou
uit ʼn vorige Augustus, ʼn maand wat aan iemand anders behoort.
Hoor jy ook daardie huil? Halala, mayibuye Afrika.

***

Read more great short stories and poetry in New Contrast 198.
Artwork by Kosie Thiart – Lazarus Taxon